Praetor

September 5, 2007

04 Konferensie

Filed under: Contemporary — praetor @ 6:58

Die groot dag het uiteindelik aangebreek. Ons is op pad konferensie toe! Vroeg oggend opgestaan en Sulize het deur die slaap gemompel “Ek wil nog slaap”, maar toe sy hoor ons ry lughawe toe, is sy aan die gang. Dit was ‘n vermoeiende rit. In Johannesburg verdwaal! Uiteindelik by ons vriendin (van Keetmanshoop) aangekom waar die motor gebly het. Die oudste dogter het ons lughawe toe geneem. Kyk, soveel bagasie het jy lank laas gesien. Bo en behalwe ons persoonlike goed, was daar nog kartonne met konferensie materiaal in. Ons was vier mense met twee trollies hoog vol gelaai!
Toe ons in die lughawegebou instap tref die werklikheid vir Sulize. Sy het hartseer geraak, maar braaf die stuk ingesit na die toonbank toe wat nogal ver was. Ons het die bagasie ingeboek en is ingelig dat ons eers kort voor die vetrek die rolstoel kan kry. Sukkel terug na die restourant, maar dit was goed dat Sulize tot verhaal kon kom en ontspan.
O aarde, hulle arriveer uiteindelik met so ‘n klein rolstoeletjie! Sulize se een boud pas nie eens op die dingetjie nie. Nee, hulle het nie ‘n groter een nie. Nou sit ons die stuk in na die immigrasie toonbank. Die dametjie van die lugdiens sien ons gaan ounag daar kom en oorreed ‘n kollega van ‘n ander redery om sy groot rolstoel aan ons af te staan. Nou hardloop sy die lang gange met ons af. Ek dra die handbagasie en moet uithaal om by te hou. Elzeth en Celia tou agterna. Uitasem, al blasend kom ons uiteindelik by die regte plek om aanboord te gaan. Sulize is heel kalm en geniet die ryery. Het nog kans gehad om vinnig by die toilet in te hardloop, want sy kan nie die vliegtuig se toilet gebruik nie. Buite wag ‘n snaakse bonkige kubusagtige bus vir ons. Sulize word eers op die hysbak gestoot en opgelig sodat sy in die bus kan inry en daarna word ons ander ook opgehys. By die vliegtuig hys die hele gedoente op tot by die vlak van die agterdeur en kon ons almal instap. Ons sit heel agter in die laaste ry.
Sulize pas op een en ‘n halwe sitplek. Ma sit by die venster en Pa moet op die orige halwe sitplek inwurm. Ons moes ‘n verlengstuk aan die veiligheidsgordel sit om vir Sulize vasgemaak te kry. Gelukkig is die vliegtuig nie vol nie en kon ek na die opstyg oorkant die padjie sit. Die broodjies het Sulize baie geniet. Dis donker buite en Sulize het nie regtig agtergekom wat gebeur met die opstyg en land nie. Gou is ons in Zambië. Met die landing het sy geskrik toe die vleigtuig rem, maar dit was nie te erg nie. Sy moes die twee dosyn trappe af stap (geen hysbakke en busse nie), maar gelukkig was ‘n groot genoeg rolstoel daar.
Die inklim in die bussie was weer ‘n beproewing, maar haar Pa kon haar darem opgehys kry (druk agter teen die boude). Hoor eers later die been spasie was te klein en haar knieë het seer gedruk teen die voorste bank. Uitgeput en vaak arriveer ons 00:30 in Kabwe. Rangeer haar in die bed en gooi die blou muskietnet oor haar. Toe ons die oggend opstaan lê die net oor haar maag en die kop is oop! Het ‘n plan bedink dat ons die net verder van haar kop kon laat hang.
As ProChristo personeel het ons veel te doen gehad voor, tydens en na die konferensie, gevolglik het ons nie die tyd gehad om rustig aan die Here se voete te sit en sy teenwoordigheid te geniet nie. Ons was voortdurend aan die gang besig om die 500 konferensiegangers te bedien. Dit was vir almal uitputtend gewees. Wat egter spesiaal was, was die paar dae voor die konferensie toe ons as sendelinge tyd met mekaar spandeer het. Ons het geluister na die werk wat God besig is om in die verskillende lande te doen en hoe hy die verskillende bedieninge seën.
Sulize het meestal deur die dag met ‘n blou kom (met vissie patrone op die buitekant gedruk) op haar maag gelê. As sy moeg geraak het daarvan, het sy geslaap! Verder was dit koeldrank, koekies en kos. Sy het verlief geneem met die nshima en kool. Vir afwisseling het ons darem ook boontjies partydae gekry. Sy het dit so geniet dat sy in Kabwe wou bly. Oom Coen het gesê sy kan en basta!
Net ‘n paar indrukke van die konferensie self.  Die konferensie tema was “Called and Commissioned” en is baie toepaslik vir die kerk vandag. Die openingseremonie was beslis ‘n hoogtepunt van die naweek. Die kinders het in marsjeer om die verskillende nasies teenwoordig by die konferensie uit te beeld.  Hulle het elkeen in hulle eie taal verwelkom en vir die vier hoof kontinente gebid.
Ons was waarlik verwonderd oor God se liefde vir ‘n wêreld in nood dat Hy mense geroep en gemagtig het om te gaan. Die waarheid was opnuut by ons tuisgebring dat slegs hierdie geslag kan hierdie geslag met die evangelie bereik.  Die sprekers by die konferensie het een en almal uitgedaag om nie die status quo te handhaaf nie, maar om iewers betrokke te raak tot uitbreiding van die koninkryk.  Frans Hancke het die appél gemaak,  “Let’s do it” en feitlik almal het hulle opnuut aan die Here gewy om dit te doen (to “DO IT”).
Ons het bewus geword van die noodsaaklikheid om as PGM-familie byeen te kom, te vertel en mekaar te bemoedig. Gevolglik was die lofprysing, aanbidding en gebedsgeleenthede so ‘n groot seën.  Sulize moes saans die stuk insit na die saal om dit ook te beleef. Dit was genoeg oefening vir die dag. Sy het die sang vreeslik geniet en haar gunsteling lied is “daar is niemand soos Jesus”. Een ding is seker, die Zambiërs weet hoe om die Here te loof en te prys. Selfs die aanbidding deur middel van dans was ‘n groot seën vir almal teenwoordig.
Die getuienisse van die veld af was beslis ‘n hoogtepunt. Dit was opwindend om te hoor dat die Here onder die Moslems en die wat verlore is werk; dat kerke geplant is en groei. Dit was aangrypend om te hoor van die beproewinge en aanvegtinge wat die werkers op die veld ondervind. Dit was hartseer om te hoor van die skare Vigswesies buite die huis van een van die werkers dat sy gedink het dit is ‘n vergadering. Sy moes hulle van kos voorsien uit haar maand se voorraad wat sy in die naaste dorp 140 Km vêr gekoop het.    Dit is hartverskeurend om te hoor van die twyfel- en futiliteitsaanslae van die vyand teen hulle. Hulle het werklik ons ondersteuning en strategiese gebede nodig. Dit kan nie genoeg benadruk word hoeveel die werkers in die frontlinie ons gebed, morele en finansiële ondersteuning nodig het nie.
Ek wil jou nou reeds uitdaag om asseblief te bid, beplan en spaar (R50 per maand is oorgenoeg) sodat jy self die konferensie volgende jaar kan bywoon en/of op ‘n uitreik na die werkers op die veld kan gaan.  Dan hoef jy nie tweedehands dit by my te hoor nie.
Die werkswinkels was baie stimulerend en prakties. Twee uitstaande indrukke was dat ons gehoorsaam aan die Here moet leef, en dat ons alles aan Sy Woord moet toets.   Sy Woord moet die bepalende faktor in ons lewens, ons wandel en ons besluite wees. Maar uiteindelik was selfs die werkswinkels te veel om in so ‘n kort rukkie te verwerk. Ons belewing was dat die naweek eintlik oorweldigend was.
Waarmee sal ek afsluit? God is aan die werk en Hy doen dit deur sy toegewyde en lojale mense. Dit was ‘n groot belewenis om die geheel beeld te sien van wat God besig is om deur PGM te doen. Die wete het in ons harte gegroei dat die Here hierdie proses gaan laat groei in ‘n sneeubal effek terwyl die 80 sendelinge op die verhoog gestaan het en opnuut aan die Here opgedra is. Ons glo dat God wonderwerke gaan doen deur alles wat by die konferensie plaasgevind het.

No Comments »

No comments yet.

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

Leave a comment

Powered by WordPress