Praetor

July 28, 2007

03 ‘n Hartseer Dag

Filed under: Contemporary — praetor @ 12:58

Donderdag 3 Mei was ‘n hartseer dag. Ek het vir Timon ons 16jaar oud Staffie geneem om “uitgesit” te word. Hy het in ‘n geveg sy een oor verloor net die oorskulp het bly sit, maar die kon hy nie eens beweeg nie. Met sy besoeke aan die veearts het ons ontdek dat hy kanker het. Ons het besluit dat ons hom sal laat uitsit wanneer hy nie meer eet nie of nie meer kan opstaan nie. Algaande het hy swakker geword, maar sy eetlus was nog sterk. Hy het ook doof geword, maar kon die klein-hond hoor blaf. Dan blaf hy ook om sy kant te bring. Dit was nogal partymaal komies. Hy blaf, maar weet nie van watter kant die “gevaar” kom nie. Sy pyn het al hoe meer geraak. Het hom pynpille gevoer met stukkies vleis/ wors, maar snag het hy gekreun en die laaste tweeweke voor sy dood het hy selfs in sy slaap gegrom (vermoedelik van pyn).
Ons en die kinders het Saterdag 5 Mei Hartenbos toe vertrek. Die kar was vol en hy sou nie kon saamgaan nie. Ons kon hom nie in iemand ander se sorg laat nie, want die ou het maar altyd oor ons getreur die tyd wat ons weg is. Toe neem ek hom. By die DBV los ek hom eers in die motor om die administrasie af te handel. Toe ek by die kantoor instap, kon ek nie meer nie. Ek raak oorstelp van hartseer. Hol eers weer uit en buite borrel die rou snikke uit my keel. Toe ek weer ingaan is die vroutjie skoon senuagtig om so ‘n ouman te sien huil, sy ruk sommer ‘n stuk toiletpapier vir my af. Nee dankie, ek het ‘n sakdoek. Al snikkend en snuiwend word al die gegewens gegee en kan ek Timon gaan haal.
Van jongs af het hy baie gewillig geloop as jy die ketting aansit. So beur hy in sy swakheid vorentoe en loop gewillig saam met my. Targies, ‘n lam ter slagting (as’t ware). Die ouman (ouer as ek, lyk dit my) laat my toe om saam met Timon in die doodsgeboutjie in te stap. Ruik hospitalerig. Ek tel Timon op die vlekvryestaal blad en hou hom vas. Streel vir oulas sy kop. Die oupatjie doen sy dinge. Draai ‘n ou das om die hond se oë. Eers ‘n inspuiting om die hond te ontspan. Dan die dodelike dosis. Ou Timon haal net op asemhaal, sy tong hang effens uit sy mond. Oupatjie haal die das af en druk die hond se oë so ewe toe. Weet nie of dit deel van die gewone prosedure is nie, maar hy sien my hartseer trane en voel om op so ‘n manier sy meegevoel te betuig. ‘n Stukkie omgee.
Dit is vir my vreeslik om te dink dat ons soveel mag het. Om ‘n dier se lewe te neem. Wat is die lewe, wat is die dood? Verbeel my iewers in prediker word gepraat van sterf soos ‘n redelose dier. Snik-snik ry ek nog huistoe met net ‘n leë hondeketting by my. Toe Albert die aand huistoe kom, is ek weer van nuutsaf hartseer uit simpatie met hom.
Snoopie (dis nou die orkaan Katriena se oorspronkilike naam) kom agter sy ou maat is weg. Sy loop nie eens rond soos gewoonlik nie. Is maar by die huis en rondom ons. Baie gehoorsaam. Saterdagoggend breek aan. Ons skarrel rond aan die pak en laai. Ou Snoopie lyk verwese. Ek besef net die hond gaan dit nie oorleef as ons haar by die huis los nie. Sy kan saam as Tasja en Albert gewillig is om haar by hulle voete te laat lê. Ja hulle is. Vyftienminute later vertrek ons met ‘n kos- en waterbak en pille agter in die oorvol kis iewers ingedruk. Sy ry baie goed, ons weet amper nie van haar nie. Doen haar besigheid wanneer ons stilhou en kom dadelik wanneer ons roep. Dink sy was ook maar bang vir alleen agterbly.
Die tyd by die see het sy baie geniet saam met die kinders. Selfs geswem (onder dwang vermoed ek). Timon skynbaar vergete.

No Comments »

No comments yet.

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

Leave a comment

Powered by WordPress