02 Pyne, Skete en ander dinge
Ons land is in die greep van ‘n droogte. Dit herinner my so aan 1982 toe ons in Keetmanshoop gekom het, wat in die middel van ‘n droogte siklus was. Daar steek sulke mooi helder wit wolke op wat dan net weer weggewaai word. Die nagte is warm en die dae nog warmder. Hefaan lê toe nog voor! Begin van Maart kry ons so ‘n week lange hittegolf. Die kwik bly 38º C en ‘n dag of twee nog hoër. Dit lyk my ons gestelle aanvaar dit beter, maar my kollega het by ‘n punt gekom waar hy dit net nie meer kon verduur nie. Toe stuur die Here ‘n koue front oor die Kaapse kus en reën vir ons. Daarvandaan was dit baie meer draaglik en het ons al ‘n bietjie meer reën gehad.
In hierdie tyd was ek erg bekommerd oor my vrou. Sy bly lêerig en slaperig. Sy het nie krag nie en lyk vir my maar blekerig. Ek dring aan dat sy met Dr Mederos (’n Kubaanse vroulike dokter wat sy sien ivm haar ekseem, maar haar as pasiënt aangeneem het) praat en gaan vir ‘n goeie ondersoek na ‘n internis. Dr Mederos laat toe verskeie bloedtoetse doen. Elzeth is bloedarmoedig, hoë kolestrol en lae yster vlakke. Die liewe Dr skryf vir haar yster pille, foliensuur, vitamien B-kompleks en nog wat voor en sedertdien gaan dit heelwat beter met haar. Die kolestrol moet ons met ‘n dieet probeer beheer, maar ek weet nie hoe dit sal werk nie, want ons eet geruime tyd al gesond.
‘n Vriend van ons het ons aan Glukemiese Indeks, GI vir kort, bekendgestel. Dit gaan basies oor die koolhidrate en vette in voedsel wat ‘n mens se bloedsuikervlakke beïnvloed. Die vriend het nog altyd gesukkel met sy gewig, want as verteenwoordiger is hy gedurig op die pad en kan nie ‘n spesiale dieet volg nie. Gevolglik het hy die handoek ingegooi en op russians en tjips geleef. Toe ons hom nou laas sien het ek en Elzeth byna op ons rug geval. Hier stap hy gehalfeer in! Hy aanseinlik gewig verloor vandat hy begin oplet dat hy hoofsaaklik lae GI voedsel soorte eet. Dis vir hom nie die inspanning van ‘n spesiale dieet nie en dit lewer klaarblyklik goeie resultate. Elzeth het toe die boek van Liesbet Delport en Gabi Steenkamp: Eet vir volgehoue energie gekoop. Ek is bly, want anders moes ek weer van vroeg tot laat slaai eet en ek is nie ‘n bok wat mal daaroor is nie. Die boek bevat ‘n verskeidenheid maklike resepte wat goeie variasie op die spyskaart bring.
Vir ons is die resultate nie so dramaties soos vir ons vriend nie, want ons het nie so erg verkeerd geëet nie, maar ons is beslis minder eterig en ons is baie meer bewus van die hoë GI kosse en probeer dit meer dikwels vermy. Ons is nou so 2½ maande daarmee besig en vertrou dat dit sal bydrae tot die verlaging van die kolestrol vlakke.
Elzeth het in die donkerte nou een aand op die stoep oor ‘n trap gestruikel en haar enkel seergemaak (nie verstuit nie). Nou gee dit vir my ‘n verskoning om aan haar been te vat en met pêrresalf in te vryf. Die terapie en oefening by die fisio help regtig vir haar rug. Die snykundige het vir eers besluit ‘n operasie is nie nodig nie. My vrou lyk nou soos ‘n (sexy) ou vrou. Wanneer ek haar in my arms hou haal ek graag vir haar Spreuke 5:18-19 aan. Gaan lees dit gerus (die Ou Afr vertaling is mooier) en gehoorsaam die Here se opdrag!
Sulize het ‘n wonderlike mediese ontdekking gemaak. Sondae is daar geleentheid om vir die sendelinge en almal met pyns en skete te bid. Ons deel die lys gebed uit vir elkeen, maar Sulize ‘n vrye gebed, met ander woorde sy bid vir wie sy wil. Sy bid toe vir die tannie se hoopyn in haar voet!
Ons gesin beplan om “Opgustus” na Zambië te gaan vir die PGM konferensie. Sulize is vuur en vlam vir die vliegtuig rit. Omdat sy so hinke-pink loop, het ons haar voorberei om in ‘n die rolstoel te ry na die vliegtuig. Sy sien ook daarvoor kans. Sy weet die vliegtuig raas nie binne nie, “nek buite”. Sy is nou baie bewus van oefeninge en die regte kos eet, wat nie vet maak nie. Ons waarsku haar dat sy in Zam net nshima en kool gaan kry. Nou sing sy aanmekaar Simbamba draai hom in die sloot trap hom dood of so iets. Daar is nogal ‘n soort aleterasie tussem nshima en simbamba as jy ‘n goeie verbeelding het. Sy wil nie rondloop op die vliegtuig nie en sy sal eers in Zambië piepie, want die toilet in die vleigtuig is te klein. Ek het haar ook probeer voorberei dat ‘n mens dieper in jou stoel “gedruk” word wanneer die vleigtuig opstyg, maar sy verstaan dit nie lekker nie. Sy is nou baie opgewonde maar ons bid dat dit sal hou wanneer sy die groot vliegtuig sien. Vir my kan julle bid vir die fondse.
Ons sit Saterdagaand van die Paasnaweek voor die TV en Sulize sê baie ernstig, “ons moet by die resturant gaan uiteet”. Nee, hoekom. Daar verjaar mos nie iemand nie. “Dis Opstandingsondag, ons moet gaan uiteet.” Sien, ons moet wat Jesus vir ons gedoen het gaan vier! Elzeth oorreed toe vir my dat ‘n woeste week met 100 meisiekinders wat in die gastehuis kom bly en moet kos kry, voorlê dus sal sy dit waardeer om nie hierdie Sondag kos te maak nie. Sulize besluit toe hoog of laag, ons moet Panarotti’s toe gaan. Ons bestel toe ons pizzas en sy kry ‘n “Hawaaiwêm” pizza. [Ek het dit uiteindelik uitgewerk: YWAM se hoofkantoor is in Hawai daarom is dit ‘n Hawaaiwêm pizza. Grappie?] Die kind van my raak nou altevol bekkig. Toe ons terug ry huis toe, is haar maag lekker vol en sy het die helfte van die pizza saamgebring vir aandete. Daar trek sy los met ‘n lied. ‘n Mens erken moeilik haar Engelse weergawe en die wysie is ook half onbekend, maar sy is gelukkig.
Julle moet maar gereeld op die blog kyk vir nuwe toevoegings tot die nuusbrief afdeling. E-pos maar as julle daarop wil reageer. Lewer gerus kommentaar op die blog-artikels. Onder aan elke artikel is daar ‘n “Comment” opsie. Dis ‘n goeie geleentheid om jou Engels te oefen. Ek modereer dit voordat dit op die blog verskyn en sal (die meeste) foute uithaal.
Groete van huis tot huis.