01 Sulize verjaar
Van die begin van Januarie af moet ek elke dag “die kruisie dood trek”, dan beduie sy met haar wysvinger heen en weer. So bou die verwagting op na haar verjaarsdag. Die presente word in ‘n groen kartondoos gebêre en die een wat te groot is, lê bo-op. Elke dag word dit gedra na haar stoel in die TV kamer en elke aand word dit teruggeneem na haar kamer. Sy sukkel nogal nie om dit oop te maak nie. Kyk net daarna. 5:45 van die groot dag is sy op. Bring my presente! Ja ek sal jou presente bring, maar wag eers tot Ma opgestaan het voordat jy dit oopmaak. Elke vyfminute vra sy, “Is Ma nog nie wakker nie? Wanneer staan Ma dan op?” Totdat Elzeth die stryd gewonne gee en opstaan.
Gretig breek die vingers die papier oop en word elke present uitgehaal, kap-kap-kap en neergesit om die volgende een oop te maak. Dis ‘n bord, ‘n blompot, ‘n plastiek glas, ‘n tas met wieletjies en binne in is daar ‘n toeletsakkie en ‘n dun leêr houer, alles lemmetjiegroen! Die volgende groot uitsien is na die partytjie om 5-uur. Sy word verras deur ‘n oom en tannie wat onverwags opdaag met ‘n present elk! Hier by 11-uur kom nog ‘n oom met ‘n groot bottel groen skuimbad! Dis sommer ‘n goeie aanloop na die partytjie toe. Sy begin al “roll-call” hou van wie almal nog moet kom. Ons begin al preek, jy moet na die mense kyk en hulle verwelkom. En so sit en wag sy met haar presente om haar vir die groot oomblik. Vyfuur breek aan en die mense bring nog presente. Sy het iewers snuf in die neus gekry dat haar beste vriendin, Heilandi, uit Tsaneen hier gaan wees en die bring vir haar ‘n lemmetjiegroen toiletplank! Verder sorg Sulize dat haar bordjie van al die eetgoed in het. As sy agterkom sy het iets gemis, moet dit opgelaai word. Sy straal, toe ons almal vir haar sing. Haar beker van geluk loop oor! Een vir een vertrek die gaste en uiteindelik bly daar nog net aandete oor. Ja, al die koek en tert is nie kos nie. Sy klim die aand in die bed, geluksalig. Toe ons weer verby kom sien ons die toiletplank lê bo-op haar maag! Elzeth is bang dit val in die nag af en breek dalk. Sy sit dit skuins teen die muur op die bed langs Sulize neer.
Nou begin die vyfdagfees. Sy sit met haat presente en tel dit een vir een op om dit opnuut te geniet. Praat aanmekaar met of sonder ‘n gehoor en dink aan elkeen wat vir haar ‘n present gegee het. “Nou verjaar ek eers weer volgende jaar”, sê sy en geniet van vooraf haar presente.