Praetor

January 21, 2007

00 Januarie 2007

Filed under: Contemporary — praetor @ 5:53

Nuus Januarie 2007

November is daar stil, stil eintlik ‘n ingrypende besluit deur die direksie van PGM geneem. Die Direksie erken dat die fokus van PGM se werksaamhede nou by die PGM Opleidingsbasis in Kabwe, Zambië gesetel is. Daarom sal die bestuur en ontwikkeling van PGM se werksaamhede in die toekoms vanuit die kantoor in Zambië geskied. Die Direksie oordeel dat dit tyd is om die werk vanuit die PGMSA kantoor te konsolideer en daarom sal die fokus en rol van werksaamhede vanuit die PGMSA kantoor vir die afsienbare toekoms sterk op administratiewe en logistieke ondersteuning van die groter PGM familie wees.
Dit het tot gevolg gehad dat ons die kantoorgebou in Beanstraat verkoop het wat weer gelei het tot ooreising. Ek moes saam met die ander ouens die kantoor meublement twee stelle trappe afdra en op die voertuie laai. Vanselfsprekend moes ons dit weer hier by die Kenilworth kantoor kom aflaai. Niemand was net voor Kersfees lus vir onnodig werk nie, gevolglik het ons alles net ingedra en toe ons die agste Januarie oopmaak, het die uitsorteer en regskuif op ons gewag. Darem het ek so twee weke blaaskans gehad om my moeë spiere ruskans te gee.
Coen het maar net vir die Direksievergadering gekom toe hierdie tameletjie in sy skoot val. Hy het hom egter goed van sy taak gekwyt. Dit was baie vergaderings op ‘n streep, maar dit was nodig en het ook verby gegaan.
My werk? Dit bly eintlik dieselfde behalwe vir een ding wat by gekom het. Coen het gevra dat ek al die opleidings materiaal wat hulle in Zambië gebruik, moet verwerk sodat ons by SA Quality Authority kan registreer en geakrediteer word. My hoof fokus is nog steeds die Indiër evangelisasie; die gebedskoördinering; en help vir Elzeth met die gastehuis.
Ek het intussen ‘n gesprek gehad met ‘n egpaar wat uit Hindu en Moeslem agtergrond kom. Hulle het ongereeld die eredienste bygewoon. Ek het met hulle gepraat om hulle te lei tot ‘n verbintenis met Jesus. Daar was egter nie ‘n verandering in hulle lewe nie en ek ontdek toe dat hulle diepliggende huweliksprobleme het. Bid asb dat ek ‘n opening sal kry om met hulle daaroor te praat en ‘n oplossing te vind.
Die Here was baie goed vir ons. Die teëls in die kerkgebou het stuk-stuk begin oplig en vir die afgelope tienmaande het ons die losses uitgehaal, maar waar kry ons teëls wat by die bestaandes inpas? Toe ek en Elzeth uiteindelik die moed bymekaar skraap om te gaan soek, was ons verras! Ons het presies dieselfde ontwerp gekry, weliswaar ‘n skakering donkerder, maar jy sien dit nie tensy jy spesifiek daarna oplet. Prys die Here vir sy goedheid. Ek het hierdie keer iemand gekry wat ‘n oordentlik werk gedoen het. Nou lyk die plek weer netjies.
Terwyl ek die teëls gaan koop kom ek agter dat die dametjie wat my bedien iets van ons kerk weet. Begin uitvra en gesels. Sy is van die Anglikaanse kerk haar hou man (van die afgelope 14 jaar) is Rooms, maar hulle het nie ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus nie. Dit is vir haar nuus dat ‘n mens persoonlik met die Here kan praat en vra ek moet hulle besoek en vir haar meer vertel. Het ‘n Bybelstudiestuk inderhaas vertaal en vir hulle gaan gee. Bid dat die opvolg geseënd sal wees en dat hulle tot ‘n oorgawe aan die Here sal kom.
Ek het ook met Lettie gesels oor die moontlikheid van ‘n dissipelskap Bybelstudie. Sy is nog vasgevang in Hiduisme, maar het as kind blootstelling aan die evangelie gehad. Sy lees die Bybel, maar verstaan ook nie aldag wat sy lees nie. Sy het versigtig ingestem om die Bybelstudie te doen. Ek moet dit nog vir haar neem. Bid dat sy dit sal doen en tot ander insigte kom en haat lewe aan die Here Jesus sal toewy.
Dit is ‘n stryd om die kerkgronde netjies te hou. die gras en onkruid begin al weer geil raak, maar die versegende hitte help darem dat dit stadiger groei. Dit lyk egter vir my of die mense wat kortpad oor die kerkgronde loop dink dis ‘n vullis hoop. Gooi al hulle gemors daar weg. Die mense wat in die pad verbyloop maak ook so. Ek en Elzeth se Bybelstudiegroep het die vorige Donderdag drie swartsakke vullis opgetel. Ons beloning was darem ‘n bruismelk by Wimpie!
Kan julle glo dat ons al agt-en-dertigjaar getroud is. 18 Januarie. Amper vergeet, maar my vrou raak nou lui vir kosmaak toe nooi sy my vir ‘n pizza by Panarottis. Ek moes egter betaal! Dis sulke tye wanneer jy besef jy word oud. Ons is so dankbaar vir die Here se hand in ons huwelik en dat Hy ons tot hier gedra het.
Daarmee sê ons vir eers groete van huis tot huis.

No Comments »

No comments yet.

RSS feed for comments on this post. TrackBack URI

Leave a comment

Powered by WordPress